Community News

SOPHIE TREU – CELEBRATING THE PEOPLE OF SWELLENDAM

SOPHIE TREU, DIE MELKTERTKONINGINVAN SWELLENDAM 7 November 1925 – 15 Julie 2020Sophie Treu (geb. Olkers) is op 7 November 1925 op Heidelberg gebore, waar sy haar kinderjare deurgebring het. Na voltooiing van haar primêre skoolopleiding het sy in Swellendam gaan werk. Daar het sy met Douglas, seun van Adolph Treu, gesiene bouer van die dorp, getrou. Hulle het twee seuns, Melvin en Dolf, gehad. Sy was ‘n aantreklike mens, innerlik en uiterlik, gevolglik was sy geliefd deur die Swellendammers. Sy was ook diep godsdienstig en beginselvas.Haar man was ‘n knap vakman, wat self hul woonhuis in Railton gebou het. In later jare het hy hom toegespits op die restourasie van ou meubels.

Sophie was self ‘n besonder talentvolle bakster en het pragtige blommerangskikkings gemaak. Sy het dus etlike pryse met haar gebak en blommerangskikkings op huisvlytkompetisies gewen. Omdat haar gebak van hoogstaande gehalte was, het sy op aandrang van dorpenaars daarmee begin sake doen. Haar besigheid het so gefloreer dat plaaslike inwoners, insluitende plaasboere van die omgewing, en persone uit omliggende dorpe en stede tou gestaan het vir haar klein gebak, melkterte asook trou- en verjaardagkoeke. Wat haar storie so merkwaardig maak, is die feit dat sy van soggens vroeg tot saans laat feitlik alles alleen gedoen het. Dolf, haar seun wat al die jare by haar gewoon het, het haar met sommige kleiner take gehelp. Toe haar man weens sy sensitiwiteit vir stof om gesondheidsredes nie meer sy werk kon doen nie, het sy die huishouding onderhou en na hom omgesien. Sy het egter nooit gekla nie en blymoedig met haar klante en andere omgegaan.

Na haar eggenoot se oorlye, het sy by Melvin in Kuilsrivier gaan woon. Die Kapenaars het baie gou van haar talente bewus geraak en sy het tot haar neëntigste verjaardag met die bedryf voortgegaan. Haar melktert was so gesog en uniek dat sy nooit die beslag in die teenwoordigheid van ander persone voorberei het nie. ‘n Paar jaar gelede toe sy besef het dat haar kragte afneem, het sy haar niggie, Juliana Treu, genooi om uit Swellendam na Kaapstad te gaan om te leer hoe sy dit doen. Sy het vir haar gesê dat sy die vorige nag nie geslaap het nie omdat sy met die Here oor hierdie besluit geworstel het. Dit was vir haar so ‘n intens emosionele stap dat sy vir Juliana gesê het om te kyk wat sy doen, maar nie ‘n enkele verduideliking gegee het nie. Die niggie het haar mooi dopgehou en pas nou daardie kennis toe en verkoop haar melktert tot in Struisbaai. Sy is so trots op die eer wat hierdie legende haar aangedoen het, dat sy vasberade is om die geheim te bewaar totdat sy dit eendag met een van haar kinders sal deel.

Sophie Treu het nie haar pligte teenoor haar kerk en die gemeenskap vernalatig nie en het op n stadium selfs as voorsitter van die Rooikruistak van Swellendam opgetree.Op Woensdag 15 Julie het sy op die ouderdom van 94 jaar in haar geboortedorp, Heidelberg, sag heengegaan. Die Railton Stigting betreur haar oorlye, maar eer haar as iemand wat Swellendam trots gemaak het deur haar innemendheid, talentvolheid, vlyt, geloof en deursettingsvermoë. Artikel: Basil F. May


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *